Nakayale Private Academy: Gratis gehalte onderrig

 

Nakayale Private Academy

Om 07:00 kry die tien joerna­liste van verskillende media-instansies mekaar op Eros-lughawe, drink koffie en tee, kry ons vliegtuigkaartjies en om 08:00 styg die vliegtuig op onderweg verre Noorde toe, bestemming Ruacana-vliegveld.

Omstreeks 10:00 daar aangekom en met die hulp van ’n NamPower-bussie is ons na die Nakayale Private Academy, ’n inisiatief van die Dirk Mudge-trust, vervoer. Dit is ongeveer 15 kilometer ver en ’n entjie verby die afdraai na Oshifo geleë.

Die eerste ding wat ’n mens opval, is die reuse- lowergroen bome wat die hele terrein volstaan. Leerders van die skool staan in kleurvolle groen en geel skooluniforms ’n erewag en verwelkom ons met sang in Oshiwambo­ en Engels. Ja, hierdie kinders het maar op 18 Januarie vanjaar, toe die skool sy deure geopen het, vir die eerste keer met Engels in aanraking gekom, maar hulle sing uit volle bors.

Die skool- en koshuiskompleks, asook ’n administratiewe gebou, behuising vir personeel en ’n skoolsaal asook sportgronde, is argitektonies uniek en indrukwekkend en slaan behoorlik ’n mens se asem weg. Wat nog meer beïndruk, is die leer- en onderrigtegnieke wat maak dat elke leerling beurtelings die volle aandag van die leerkrag geniet.

Wat vir elke ouer, wat bevoorreg is om ’n kind in graad 0, graad 1 of graad 2 aan Nakayale Private Academy te hê, ’n riem onder die hart is, is die feit dat onderrig gratis is. Verder is geen skoolgeld betaalbaar nie en die leerders word van skooldrag, ontspanningsdrag, gratis maaltye en alle onderrig-hulpmiddels kosteloos voorsien.

 

Nakayale Private Academy

Middagete sit die besoekers saam met die leerders in die skoolsaal aan vir potjiekos. Dis mond-water-heerlik en sowel die leerders as die besoekers­ smul behoorlik.

In die kombuis is ’n weeklikse spyskaart opgeplak wat deur ’n dieet­kundige opgestel is om in die behoeftes van die leerders te voorsien. Dit spreek van verskeidenheid en ’n goeie gehalte gebalanseerde eetplan wat net sal bydra om te verseker dat ’n gesonde liggaam inderdaad ’n gesonde gees huisves.

Om 14:00 val die besoekers in die pad terug Windhoek toe, eers Ruacana-lughawe toe, van waar die vlieë­nier verras met ’n verbyvlug oor die Ruacana-valle wat loop na goeie reën in die suide van Angola. Wat ’n ongelooflike skouspel.

Van daar na Ondangwa om brandstof in te neem en toe terug Windhoek toe waar net ná 17:00 geland word.

Wat ’n ongelooflike dag, wat ’n ongelooflike ervaring.

Source: Repubikein